Afrikaans


In graad 8 (die ou standerd 6) het ons elke jaar sewe stelle, elkeen op 2de Taal vlak, maar die standaard van werk in stel 1 is in werklikheid op 1ste Taal vlak. In grade 9 tot 12 (matriek) het ons altyd een 1ste Taal stel, en vyf of ses 2de Taal stelle. Die lede van ons 1ste Taal klasse is óf Afrikaanssprekend, óf Engelssprekendes wie se Afrikaans baie sterk is, en ons is trots daarop dat die gehalte van werk in hierdie stelle op dieselfde vlak is as 1ste Taal Afrikaans in enige skool in Suid-Afrika.Ons 2de Taal klasse word as 't ware op verskeie vlakke aangebied - van diegene in stel 2 wie se Afrikaans baie goed is en 'n A-simbool aan die einde van matriek sal behaal, tot diegene wie se Afrikaans middelmatig is, tot die sukkelaars in die laer stelle, en dan ook immigrante wat die eerste keer Afrikaans begin leer. Deesdae word alle ontwikkeling van die seuns se Afrikaans volgens die kommunikatiewe benadering aangepak. Die ou dae van leer-hierdie-lyste is verby en dis vir ons belangrik dat die seuns hul Afrikaansklasse as genotvol en opwindend beskou. Volgens die plan vir Uitkomsgebaseerde Onderwys moet die leerders nou betekenis kan skep en interpreteer, krities op taalgebruik kan reageer, op die estetiese, emosionele, kulturele en sosiale waardes van tekste reageer, inligting uit 'n verskeidenheid bronne en situasies bekom en verwerk, taalstrukture binne konteks begryp, ken en toepas, taal vir studiedoeleindes aanwend, en gepaste kommunikasiestrategieë vir spesifieke situasies kies en gebruik.Ons kritieke uitkomstes behels, onder meer, die vermoë om...

  • 'n verskeidenheid gepaste leertegnieke toe te pas om sodoende lewenslange opleiding en ontwikkeling te bevorder
  • in verskillende situasies effektief te kommunikeer deur middel van visuele, matematiese en taalvaardighede
  • inligting uit verskeie bronne krities te versamel, ontleed, organiseer, evalueer en toepaslik aan te wend
  • probleme op te los en verantwoordelike besluite te neem deur kritiese en kreatiewe denke
  • alleen én as lid van 'n groep op te tree
  • tegnologie krities te gebruik
  • die verband tussen teoretiese kennis en die praktiese toepassing daarvan te verstaan.In grade 8, 9 en 10 word 2de Taal leerders se punte op mondelinge kommunikasie, taalvaardighede, leesbegrip (net nie-literêre tekste) en kreatiewe skryfwerk gebaseer. In grade 11 en 12 word voorgeskrewe tekste (prosa en poësie) bygevoeg. Ons 1ste taal leerders moet dít alles ook bemeester, maar vir hulle word literatuur vanaf graad 9 aangepak en die werk is van hoër standaard.